‘n God wat werd is om te aanbid – My antwoord op Rian van Heerden (11 Mei 2016)

Die tonge klap hierdie week oor Rian van Heerden se uitlating op die The Complimentary Breakfast Show.  Vir ingeval jy onder ‘n klip weggekruip het, hier is wat hy te sê gehad het.

“Any God, I do not care if he has eight arms or is a tree, I do not care who you worship, any God who judges people for how they were born or for who they were born, is not worth serving,”

Wat egter vir my meer interessant was, is hoe die Christene hierop gereageer het, en dit blyk vir my of ‘n video deur Johan Frederik Lee op Facebook min of meer die gevoel van meeste saamgevat het.  In antwoord daarop is daar weer Bybeltekste soos Luk 6:37 gekwoteer wat lui dat ons nie moet oordeel nie.

In al hierdie gesprekke is daar egter een ding wat nooit aangespreek word nie, en dit is die inhoud en meriete, of te kort daaraan, van Rian se stelling.  As ons as Jesus se dissipels regtig ernstig opgeneem wil word, sal ons moet ophou om persoonlik te raak in ons aanvalle op ander en LUISTER wat mense soos Rian te sê het.  Die realiteit is dat Rian se opmerking ‘n geldige uitdaging stel, en of jy nou daarmee saamstem of nie, kan ons die man ten minste genoeg respekteer om sy opmerking eerlik te bespreek sonder om hom as persoon te kruisig.

Dit is dus met hierdie in gedagte dat ek Rian se kommentaar as volg wou antwoord sou ek die kans gegun word.

 


 

Geagte Rian,

Ek hoop jy sal my briefie sien in die gesindheid waarin ek dit geskryf het.  Ek sou beslis nie die eerste klip kon gooi nie, want ek is ook maar net ‘n sondaar. My hoop sou wees dat ek en jy eendag kan saam sit en ‘n koffie drink en gesels oor ‘n God wat die moeite werd is om te aanbid.

‘n Vinnige Internet-search wys vir my daarop dat jy uit die NG-Kerk se geledere kom, en terwyl ek nie voorgee om jou te ken nie, wys dit vir my daarop dat jou uitspraak op ‘n meer spesifieke God gemik is as een met agt arms of wat dalk ‘n boom mag wees.  Ek wil dis van uit die standpunt uitgaan dat ek en jy oor dieselfde God praat, die een van wie ons lees in die Bybel.

Sou ons geheel en al niks anders weet van enige gegewe God nie, sou ek dalk moes saamstem met jou stelling, maar die realiteit is dat ons heelwat meer weet as net dat Hy nie homoseksualiteit goedkeur nie.  Ek dink ook egter dat ons regtig oneerlik met onsself sou wees as ons probeer voorgee dat tekste soos Lev 20:13 anders vertaal of weggeredeneer kon word.

Die realiteit, Rian, is dat ek en jy met ‘n baie soortgelyke probleem sit.  Soos jy gebore is as iemand wat ‘n natuurlike begeerte het na mans, het ek ‘n natuurlike begeerte na vroue.  Jesus het op ‘n geleentheid genoem dat God se standaard van so aard is, dat as ek selfs na ‘n ander vrou sou kyk om haar te begeer, ek reeds in my hart met haar egbreek gepleeg het.  Egbrekers, net ter interessantheid, verdien dieselfde straf as die man wat by ‘n ander man slaap volgens Lev 20.  Ek was nog nooit ontrou teenoor my vrou nie, maar enige man wat voorgee dat hy nog nooit in sy lewe ‘n ander vrou raakgesien het nie, sou ‘n blatante leuenaar wees.

So, hier staan ek en jy ewe skuldig voor dieselfde God en verdien dieselfde straf volgens Lev 20, dit is, ‘n doodstraf.  Jy skuldig aan vers 13, ek skuldig aan vers 10.

Sou dit regverdig wees vir God om ons twee te verdoem vir hoe ons gebore is?  Miskien, miskien nie.  Die vraag wat ons egter vir onsself vra gaan nie oor regverdigheid nie, maar of hierdie God wat hierdie wette laat neerskryf het, werd is om aanbid te word?

Wel, die storie stop nie hier in Levitikus nie.  Hierdie selfde God, wetende dat beide ek en jy geheel en al skuldig is aan die standaard wat Hy gestel het, los ons nie net aan ons eie lot oor om eendag voor Sy regterstoel te staan en veroordeel te word nie.  Hy kom self aarde toe, maak in duidelike terme seker dat ons verstaan wat Sy standaard is (sien Matt 5), en betaal dan die doodstraf wat ek en jy verdien.

Dit, my vriend, is ‘n God wat werd is om te aanbid.  ‘n God wat sonde sterk veroordeel en dan self die vonnis daarvoor betaal, hoe kan jy vir meer vra as dit?

Jy sien, ek en jy hóéf nie onder die God se oordeel te staan nie.  Die oordeel oor ons twee is reeds gevel, ons is skuldig bevind, en hierdie God bied vir ons twee die geleentheid aan om die vonnis vir ons sonde vry te spring juis omdat Hy reeds daarvoor betaal het.  Maar dit bly ons keuse op die ou end.  Hy sê dat, as ons ons sonde bely (soos om skuldig te pleit in die hof), Hy getrou sal wees om ons die sonde te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig soos Hy sê in 1 Joh 1:9.

Hier is egter nou ons twee se potensiële probleem.  Ek kan mos nie voorgee om my egbreek te bely het as ek aanhou om al die mooi tienermeisies te bekyk wanneer my vrou anderkant toe kyk nie?  Solank as wat ek gaan aanhou om my sonde voor God te probeer regverdig deur vol te hou dat Hy my so gemaak het, sou my belydenis mos vals wees.  Geen hof in ons land sal dit duld dat ek skuldig pleit en dan verder probeer voorhou dat ek niks verkeerd gedoen het nie.  Ons sou ons verwaand wees om dieselfde te probeer doen teenoor God en dan verwag dat Hy my moet vryspreek van iets waaraan ek voorgee om nie skuldig aan te wees nie.

Óf jy is skuldig aan Sy wette, pleit skuldig en aanvaar die vryspraak waarvoor Hy Sy lewe gegee het, óf jy hou vol dat jy niks verkeerd gedoen het nie en kyk wat gebeur.  Ek glo egter jy het al genoeg flieks gekyk het om te weet hoe dit vir die bad guys uitwerk wanneer hulle ‘n goeie ondersoekspan in die hof aanvat…

Om af te sluit, toe God voor die grondlegging van die aarde na jou gekyk het, kyk Hy nie vas in jou sonde nie.  Hy kyk na jou, dink aan wat dit Hom sou kos om dit reg te kry dat Hy jou nie HOEF te oordeel nie, en sê dan: “You’re worth it“.  Mag jy na Hom kyk en sien dat Hy geen begeerte het om jou te oordeel nie en dat jy bereid sal wees om skuldig te pleit en eendag te besef dat: “He’s worth it“.  Want Hy is…

Groete,

Johan Fuhri.


2 comments

  • Norman Wales

    Hi Johan

    Jy het dit so ongelooflik mooi gestel dat enige iemand sal kan verstaan hoe groot ons GOD regtig is. Ek wil jou gelukwens en sé dat ek dink jy is ‘n ware man van GOD, en ‘n voorbeeld vir so baie van ons.

    Groete
    Norman

  • Yvette Smit

    Beautiful!Amen.God is n genadige God wat ons so lief het dat Jesus vir ons al ons sondes gesterf het en die Heilige Gees gee om ons te help.Ek pleeg sondes dikwels in my hart of met my mond,maar ja,ek kan dit nie vir God wegsteek of regverdig nie,maar moet dit bely.Dankie vir jou antwoord.

Leave a Reply

Your email address will not be published.