Monthly Archives: April 2017

‘Versoening’, maar beter…

Laas Sondagoggend het Dr Isak van der Walt met ons gepraat oor ‘n gedeelte uit 1 Joh, en hy het vir ons uitgewys dat daar ‘n woordjie in die gedeelte gebruik word wat nie heeltemal die gedagte oordra soos wat Johannes dit in gedagte gehad het nie.

En Hy is ’n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.  – 1 Joh 2:2

Die woordjie ‘versoening’ in 1 Joh 2:2 vertel van die gedagte dat Jesus die probleem wat tussen ons en God staan, uit die weg geruim het.  Maar die woord ‘versoening’ dra nie heeltemal die gewig van die gedagte so goed as wat dit moet nie.

In die oorspronklike Grieks word die woord ἱλασμός (hilamos) gebruik.  Sommige Englese vertalings gebruik die term ‘atoning sacrifice’, wat heelwat nader kom aan die oorspronklike woord se betekenis.  In Engels is daar ook die gedagte van ‘propitiation‘ wat ons nie regtig ‘n Afrikaanse eweknie voor het nie.  ‘Propitiation’ word as volg gedefinieer.

propitiation

Wat my opgeval het van hierdie woord wat Johannes gebruik, is dat dit ons so klein bietjie van ‘n idee gee van hoe groot die moeilikheid is waarin ons ons bevind het voor God.  Dit is so maklik vir ons om te vergeet dat daar ‘n God in die hemel is wat sonde haat, ‘n God wat regverdig is, en ‘n God wat gesê het dat “die loon van die sonde is die DOOD” (Rom 6:23). Ons verwys dikwels gesamentlik hierna as God se heiligheid, sonder om mooi na te dink oor die implikasies van ‘n heilige God.

Die realiteit van die saak is dat elkeen van ons skuldig is aan sonde (1 Joh 1:10), en hoe goed of sleg ons ook mag dink ons is, maak eintlik nie saak nie.  Die loon van die sonde is die dood, soos in Sodom en Gemora, die aarde wat Korag en sy gesin insluk, of om wreed en uitmekaargeslaan aan ‘n kruis vasgespyker word.  Dood, ‘n wrede dood.

Wat Jesus gedoen het, was om tussen ons en die Heilige God in te tree, en aan te bied om die verhouding te herstel deur self die uitstaande skuld te betaal.  DIT is wat ἱλασμός (hilamos) beteken.  Dit is soos die woord ‘versoening’, maar beter…

Terwyl ek nagedink het oor hierdie woord, het ek besef dat daar ‘n mooi voorbeeld van hierdie beginsel in die fliek ‘The Hunger Games’ voorkom.  In die fliek is daar “The Reaping” waar elkeen van die twaalf distrikte ‘n man en ‘n vrou moet kies om te gaan deelneem aan die “Hunger Games”, basies ‘n geveg tot die dood tot die vermaak van die mense.  Die hoofkarakter, Katniss Everdeen se sussie, Prim Everdeen, se naam word eers uit die hoed getrek as verteenwoordiger vir die distrik.  Wat Katniss dan doen is ‘n mooi voorbeeld wat hierdie woord ‘hilamos’ beteken.