Die pad terug na Jesus toe

Op 15 Aug 2023 was ek oppad skooltoe om ‘n praatjie te gaan gee vir ‘n spul Gr10 leerders. Ek het daai oggend gery en by myself gedink, ek is nou finaal klaar met die Here en kerk en alles wat daarmee verband hou. Vir meer as ‘n jaar het ek gerou en gehuil en gehoop, maar daardie oggend was ek reg om aan te beweeg eens en vir altyd, sonder Jesus. Ek het al die stappe van rou deurgewerk, en na al die ontkenning, woede, onderhandelinge met God en depressie was ek nou gereed om dit te aanvaar as finaal. Ek kon nie meer die emosionele wipplank aanhou ry nie, vandag klim ek af.

Die middag na skool het ek ‘n koffie afspraak gehad met ‘n vriend (hy sal nie daarvan hou as ek sy naam hier noem nie). Na ons onvermydelike gesprekke oor hoe warm dit vandag is, en hoe gaan dit met die kinders, het ek vir hom genoem dat ek nou juis vandag op ‘n punt is dat ek klaar is met Jesus en kerkdinge, en nie meer myself gaan flous om te hoop dat daar ‘n pad terug is vir my nie.

Ek kan nie regtig onthou hoe die gesprekke daarby uitgekom het nie, maar ek onthou duidelik dat hy vir my begin vertel het van sy eie pad saam met die Here, en op ‘n baie eerlike manier vertel van dinge waarmee hy sukkel. Wat my egter getrek het, was die feit dat die dinge waarvan hy vertel het nie in die publieke oog afspeel nie, en dat hy regtig niemand sou kon beindruk deur dit “reg te kry”, of iemand teleurstel deur dit net eenvoudig te los nie. Hierdie was net tussen hom en Jesus, en dit het regtig vir hom saakgemaak. Daar het ek besef dat daar wel mense daar buite is wat ernstig daaroor is om in Jesus se rigting te stap, selfs in dinge wat regtig iets kos (soos in finansieel) en regtig saakmaak (soos in omgee vir weerloses). Wat hy aan my verkoop het was nie ‘glamorous’ en ‘love’ en ‘joy’ nie, maar dit was verseker “compelling”. Ek reken dis soos wanneer die ander dissipels vir Petrus sien uit die boot uitklim om op die water na Jesus toe te stap, en dan sink hy so bietjie weg in die water. Dis nie elegant nie, maar dit los ‘n indruk op jou wat geen hoeveelheid preke ooit kan doen nie. En ek wou ook hiervan hê…

Die hele situasie het my so bietjie omkant gevang, om eerlik te wees. Daardie oggend was ek uiteindelik reg om heeltemal te breek met alles wat Jesus is, en dan wys die Here vir my dat daar wel nog mense oor is wat ernstig is oor hulle pad saam met Hom, en dat die pad saam met Hom soveel meer kan wees as wat ek tot dusver ervaar het. Daar was egter ‘n probleem, die pad terug na Jesus toe loop nie terug vanwaar af ek kom nie, dit sou behels om uit die boot uit te klim en oor die water te loop tot waar Jesus is.

Ek is daar weg egter met hierdie een vraag in my gemoed: Is dit regtig die moeite werd? Want die realiteit daarvan om op die water na Jesus toe te loop is dat jy regtig kan verdrink as dit nie uitwerk nie. Dis nie asof jy gou kan terugklim in die boot en nou-nou weer probeer nie. As jy uit is, is jy uit, en dan gaan jy moet stap tot daar waar Jesus is, of jy gaan verdrink. ‘n Mens klim dus nie uit hierdie gemaklike bootjie uit tensy daar regtig iets aan die anderkant is wat die moeite werd is nie. 

In my geval het dit gegaan daaroor om ‘n kind aan te neem. Dit is ‘n onderwerp waaroor ek al baie jare met die Here oor worstel, want ek was nog altyd vasberade daaroor dat, as Jesus vir my sou vra om ‘n wild-vreemde kind in my huis in te neem, ek sou moes weier om dit te doen. Die impak en risiko vir ons gesin was net eenvoudig te groot. En dit is hoe ek myself bevind het voor Jesus, net soos daardie ryk jong man wat nie bereid was om sy besittings te verkoop nie, en droewig moes wegstap van Jesus af (dit was een van die redes hoekom ek in die eerste plek weggestap het van Christenskap af). Mens kan nie voorgee om ‘n dissipel van Jesus te wees as jy Hom nie gaan volg nie, dis net eenvoudig nie hoe dit werk nie.

Ek het nie regtig geweet wat om volgende te doen nie, want geen van die regte-lewe feite het eintlik verander nie. Ek was oortuig daarvan dat ‘n aangenome kind in die huis regtig ‘n groot opoffering vir ons gaan wees. Ons kinders was nou op die ouderdom waar ons al so bietjie kon begin droom oor hoe ons weer ‘n motorfiets gaan koop en die land plat toer wanneer hulle uit die huis uit is. As ons nou ‘n kind aanneem, is ons weer vas vir 20+ jaar, begin weer van voor af met doeke, boeke en al die potensieele risikos wat met kinders-grootmaak saamgaan. 

Gelukkig was Emsie al lankal gereed om ‘n kind aan te neem. Goed dan, dan neem ons ‘n kind aan en kyk wat gebeur volgende. Ek het gereken dat as Jesus die moeite gedoen het om my daai dag te onderskep, waar ek gereed was om heeltemal op te gee, dan is dit seker belangrik vir Hom. Ek het dus besluit dat ons ‘n kind kan aanneem, en dan kyk ons wat doen die Here volgende. As die Here die ding vandaar af wou verder vat, wonderlik, en indien ek myself misgis het of as hierdie net my eie emosies was wat my maak hallusineer, dan is ek en een of ander arme kind in vir die teleurstelling van ons lewens…

‘n Nota wat ek kort na hierdie gesprek gemaak het om my eie gedagtes to probeer uitsorteer.

Die Bybel se Goue Draadjie

Rondom hierdie tyd het ek een aand met Emsie gesels, en ek het vir haar vertel hoe ek en my ma tydens my matriekjaar ‘n Bybelkursus bygewoon het waar hulle in ‘n jaar se tyd deur die Bybel gewerk het. Dit was destyds vir my besonders, want dis waar ek besef het dat die Ou Testament besonder is. Dis in die Ou Testament waar mens regtig leer wie God is, hoe Hy regtig is, en hoe die Here van die begin af Sy plan van verlossing bekend gemaak het. Ek het my kommer uitgespreek dat my kinders uitverloor op die Bybel se groter prentjie, omdat hulle dit nie geleer word by die kerk nie. Op daardie stadium het ek nog geweldig baie bitterheid rondgedra teenoor die kerk, en ek het vir haar voorgestel dat ons dalk ‘n klompie jongmense bymekaarkry, dan werk ons saam met hulle deur die Ou Testament om vir hulle die Bybel se sentrale boodskap, die goue draadjie wat regdeur loop, uit te wys. As die kerk te sleg is om my kinders te leer van hoe God regtig is, dan sal ek dit self doen!

En so het dit toe gebeur dat, met die onsuiwerste van motiewe, nog baie ver weg van die Here af, hierdie ou wat nie eers meer ‘n Christen is nie, saam met ‘n groepie mense heel voor begin by Genesis 1 om weer van voor af te leer wie God is. Van waar ek nou staan kyk ek terug na hierdie absurditeit en ek is stomgeslaan dat so iets eers moontlik kon wees. Ek sien egter ook nou dat dit nodig was vir my om weer te gaan leer van eerste beginsels af hoe God is. 

Soos ek elke week my voorbereiding moes doen vir die volgende Woensdag se boodskap, het ek weer die voorreg gehad om eerstehands te leer en te verstaan wie God is, en hoekom ons in die eerste plek hier is. Ek het weer ontdek dat God se oorspronklike plan vir ons as mense nog altyd was om Sy verteenwoordigers op aarde te wees. Die Bybel se hele verhaal draai rondom hierdie goue draadjie, God se plan om ons te verlos van dit wat nie soos Hy lyk nie, juis sodat ons weer vir ‘n stukkende wereld kan wys hoe Hy is. Maar beste van alles, die God wat ek weer van voor af in die Ou Testament raakgeloop het, was ongelooflik “compelling”. Dit wat Hy het om te bied, en die voorreg om Sy verteenwoordiger op aarde te wees resoneer met ons diepste wese en ek het dit met my hele wese gemis. Dit, hierdie God wat ek van lees in die Ou Testament, DIS wat ek wou hê.

Ongelukkig was daar nog iets wat in die pad gestaan het, wat gemaak het dat ek nie sommer net kon terugkom na Hom toe nie, en dit was die kerk. Op die stadium het ek ook die konneksies begin maak tussen dit wat ek hier in die Ou Testament van geleer het, en ‘n baie klein handjie vol mense met wie ek (dikwels tweedehands) te doen gehad het. Hierdie mense se lewens en verhale het vir my geresoneer met die God van die Ou Testament, maar nie een van hulle het lekker gepas in die vorm (“mould”) van kerk soos waarmee ek groot geword het nie. Nie een van hulle, byvoorbeeld, was super-heilig nie. Hulle het nogal heel gewoon gelyk eintlik, ek het hulle nie geken vir hulle ure van gebed, groot preke, of heilige woorde nie. Wat hulle wel almal in gemeen het, is die spreekwoordelike grond onder hulle vingernaels, menende dat hulle besig was om prakties ‘n verskil in die lewens van straatkinders, armes en haweloses te maak. Hulle was prakties betrokke by gesprekke en projekte wat die mure tussen swart en wit in Suid Afrika afbreek, ware vredemakers. Hulle dink ook almal weird oor geldsake… 

Die kerk, soos ek daarmee grootgeword het, was egter niks soos dit nie. Dit was ‘n groot deel van hoekom ek in die eerste plek weggestap het van Jesus af in die eerste plek. Hoe meer ek die Bybel gelees het, en weer van voor af leer het hoe God is, hoe meer duidelik was dit vir my dat die kerk niks het om te bied nie. Dit wat die kerk verkoop het, het nie dieselfde “compelling” trekkrag wat die Ou Testament, en hierdie handjie vol mense met ‘vuil’ vingernael, gehad nie. Daar is niks van daardie resonansie met God se karakter nie. Dit was vir my ‘n redelike krisis, want teen April/Mei 2024 was ek omtrent reg om terug te kom na Jesus toe, maar nie as dit behels om terug te gaan kerk toe nie. My pad terug na Jesus toe het homself doodgeloop teen ‘n muur en ek was bekommerd dat dit die einde van hierdie pad sou wees.

Ek en Jona

Rondom hierdie tyd was ons min of meer klaar met ons reeks oor die Bybel se Goue Draadjie by die selgroep, en het ons begin om deur die kleinprofete te werk. Amos en Hosea het net van voor af weer bevestig dat God regtig baie omgee vir die weerloses, en ons sou na die Junie vakansie verder gaan met die boek verhaal van Jona.

Tydens die vakansie het ek ‘n boek gelees, or eerder die Audiobook geluister, genaamd “God and Money” deur Gregory Baumer en John Cortines. Ek onthou hoe ek iewers in die middel van die boek op ‘n stadium besef het dat hierdie lewenstyl waarvan hierdie twee praat so anders is as wat ek in die kerk ervaar het, en tog het dit my so getrek (“compelling”), want dit het resoneer met die ongelooflike grootheid van God wat ek sien in die Ou Testament, en hoe dit inpas met die mens se skeppingsdoel om Sy verteenwoordigers te wees. 

Terselfte tyd het die verhaal van Jona aan my begin knaag (ons sou na die vakansie by die selgroep bietjie gesels oor Jona), en na aanleiding van Jona en hierdie boek “God and Money” wat ek gelees het, het ek besef dat ek nogsteeds, na alles, God se liefde onderskat het. 

Want jy sien, dit is maklik om lief te wees en genade te gee vir die wat niks aan jou gedoen het nie. Nineve, en die kerk, is egter nie soos dit nie, hulle het baie om voor te verantwoord. Net soos Jona het ek hier bo-op die berg, onder my boompie sit en wag dat die Here Sy ding doen om hulle (Nineve en die kerk) te oordeel en te verwoes vir al hulle sondes, en net soos Jona was ek kwaad en omgekrap wanneer die Here dan besluit om genadig te wees. Wat ek en Jona dikwels vergeet, is dat God se karakter van so aard is, dat Hy nie die onskuldiges en weerloses saam met die sondaars uitwis wanneer Hy oordeel nie, hulle is vir Hom te kosbaar. Daarom sien ons hoe Abraham die Here kan afstry om Sodom en Gemorra te spaar, sou daar so min as 10 regverdiges in die dorp wees. Dieselfde sien ons in Jesus se gelykenis in Matt 13:28-30, dat hy nie wil he dat die arbeiders die bossies moet uittrek wanneer die oes nog jonk is nie, want dalk trek hulle per ongeluk van die kosbare koringare uit. En dan natuurlik weer wanneer die Here vir Jona aanspreek oor die 120 000 in Nineve wat nie links van regs kan onderskei nie (verteenwoordigend van die onskuldiges/weerloses). 

Binne-in die kerk is daar mense wat met suiwer intensies daar opgeindig het. Daar is mense wat eg is daaroor om met die Here ‘n verhouding te hê, en hulle word gruwlooslik in die steek gelaat deur die leiers van kerke wat van beter behoort te weet. Hierdie mense is ongelooflik kosbaar vir die Here, en Hy sal nie Sy regverdige oordeel die kerk vel ten koste van hierdie kosbares nie. Hulle is so belangrik vir die Here dat Hy wil he dat ek my trots en hoogmoed in my sak steek, en teruggaan kerk toe, want as ek hoop om eendag weer Sy verteenwoordiger te wees, dan moet hulle vir my ook belangrik wees.

En met dit het die Here die laaste muur uit die weg geruimwat my weggehou het van Hom af. Ek het vele kere gehuil oor die laaste twee of drie jaar, en vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd was dit trane van verligting. Die Here het gedoen wat ek, net ‘n jaar gelede, gereken het heeltemal onmoontlik sou wees. Elke liewe ding wat tussen Hom en my gestaan het, het Hy net eenvoudig een-vir-een afgebreek en weggevat totdat daar niks meer oor was nie. Hy het dit gedoen sonder enige mense se slim woorde, net deur vir my van voor af te laat verstaan wie Hy eintlik is. ‘n Jaar en ‘n half gelede het ek op my webtuiste geskryf dat niemand My hier in die woestyn gaan kom haal nie, ek haal aan : “So yeah. No good shepherd coming to find your lost ass in the wilderness”, en dan skielik staan die Goeie Herder hier by my met die uitnodiging om terug te kom. 

In kort is dit hoe ek my pad terug gevind het, of eerder, hoe die Here my daar in die wildernis kom haal het, want my aandeel hieraan is weglaatbaar klein. Daar is nog baie werk wat gedoen moet word, want ek besef dat hierdie maar net die eerste tree is oppad na waar Jesus wil he ons moet wees, maar ek is opgewonde en so ongelooflik dankbaar om weer die pad aan te kan durf saam met Hom.

3 comments

  • Estelle Viljoen

    Hoe ongelooflik groot en getrou is ons onpeilbare God nie!… Dankie,

  • Elmarie

    Dit is n wonderlike getuienis wat ons net weer laat besef – dit gaan nie oor ons nie maar oor Jesus. Ons God is ver bo wat ons menslike verstand ooit kan dink of besef. Dankie dat jy dit deel Johan, dit is n wondelike bemoediging.

  • Ben Wasserman

    Ek is saam met julle opgewonde oor wat Die HERE gaan doen

Leave a Reply

Your email address will not be published.